Radiospeler Radiospeler
 
Supertaal
Kom praat saam!

Tuis » Taal » Prosa & poësie » "Unter den Linden" deur MARLISE JOUBERT
"Unter den Linden" deur MARLISE JOUBERT [boodskap #39278] Do, 15 Februarie 2001 14:32
Anoniem
Oorspronklik gepos deur: @home.com

UNTER DEN LINDEN
Oos-Berlyn, 1970
-Marlise Joubert-

Laat my nou maar met rus so onder die laken
wit skoenlapper oopgevlerk
laat my oopgespalk rus en rustig reis
in die kokon van eie bloed
die asem van my hart stap deur my oë:

daar is nuwe jonkgeel blommetjies fluisterend gevou
om die honderdjaar ter nagedagtenis van 'n leninplakkaat
maar ek stap onder die lindebome met fronsende bene
oor 'n brug waar die water bruin woorde mompel
en ek luister -
oral voetstappe
sonder gesig
en sonder stem

en ek ruik die roetswart torings van ou katedrale
waar slegs die duiwe nog genade soek
en brandenburg se pilare hou wag
die uniforms hou dop
en ek wonder wie kruip weg
en waarom is die lug so mot en rou
agter lourier en bajonet
smeul 'n vlam in altaarglas

die stilte pak aan teen die vensters
en ou deure toegespyker vier 'n fees
vir die dood

iets gryp aan my hakskeen
iets wurg om my keel en ek vlug
na die gaping in die doringdraadmuur

die kokon breek

en ek hang oopgevlerk
'n wit skoenlapper
aan die sidderende son
Vorige onderwerp: Gedig
Volgende onderwerp: "Laatmiddag in die Klein Karoo" deur FERDI GREYLING
Gaan na forum:
  

[ XML-voer ] [ RSS ]

Tyd nou: Sa Apr 27 20:15:37 MGT 2024